Vroeg vanoggend was dit koel in Pretoria.

In die middel van die woelige oggend kyk ek by die venster uit – en sien daardie onmiskenbare diepblou lug van die herfs!

Nadring van die herfs – M J Harris

Die akkerbome sal weer staan soos spoke

langs die straat as ek ineengedoke

laat na huis moet gaan. Miskien sal sterre

deur die ragwerk blink, miskien ‘n verre

nuwe maan gekantel oor die rand.

 

Die akkers val. Die blare kleur soos sand

en rossig-bruine grond: dis of die bome

sidderend soos vroue sonder drome

wag en weet dat hulle arm en ontdaan

na elke wisseling van die tye staan,

maar uit die donker aarde en hul skoot

eindeloos die lentes op sal stoot.

 

Dag vir dag gaan ek aan hul verby

en sien die wondergang van jaargety

op jaargety, maar vreemd dat daar in my

alleen die vae hunkering agterbly

na ou-ou lentes, en ‘n taaie pyn

met elke nuwe herfstyd feller skryn.

 

Advertisements