htpps://scrapydo2.wordpress.com/2016/01/07/toeka-tokkel-2016-welkom/

Vroegoggend vat ons die pad: hoogswanger jong vrou; peuter, wit strooihoedjie met gekartelde randjie op die koppie, in haar 4×4-stootwa; freneties-opgewonde Afrika-hond in pienk harnassie; en les bes, ouma in ‘n bont gewaad. ‘n Verwonderlike kavalkade, durf ons die stadstrate aan.

Ons woon drie blokke van Menlyn af, waar daar geweldige bouwerk (ai, die stof en die sand!) aan die gang is. Aan die een kant van ons kompleksie ruis die ongedurige verkeer dag en nag – aan die ander kant is daar stil voorstedelike strate, en dis waar ons gaan stap. Nouja – stil, behalwe vir die luide honde, wie se geblaf ons straat-af vergesel, terwyl Muis (dis nou die hond) op haar beurt met moord en doodslag dreig.

Verby mooi tuine agter hoë mure stap ons; verby groot bloekombome langs ‘n stroompie met sementwalle, waar tarentale in lang gras wei. Ons tel vir die peuter ‘n takkie op wat sy soos ‘n banier kan wuif en staan ‘n rukkie stil om ‘n hoep-hoep met sy hiper-deftige veredos te bewonder. Onder die mooiste ou doringbome stap ons, tot by die lewensgroot sementleeu wat onder uitheemse sierbome lê, naby twee metaal-kraanvoëls voor ‘n geheimsinnige kantoorgeboutjie. “Hallo, Oom Leeu!”

Net anderkant die fonteintjie in ‘n pseudo-Spaanse voorhof draai ons af op die sypaadjie van een van die besige voerstrate, vol ongeduldige motoriste op pad kantoor toe. Voetgangers glimlag vir ons uitsonderlike optog, groet vriendelik. Ons vleg deur asblikke, loop draaie om motors wat op die sypaadjies geparkeer staan. Ouma slaak ‘n sug van verligting as ons uiteindelik behoue by ons eie hek indraai.

O Pretoria, jakarandastad – stad van my hart! Treur ek oor jou jakarandas wat nou vir Tshwane se koorsbome moet plek maak, of treur ek oor my eie verlore jeug?

Advertisements