In Auckland in Nieu-Seeland staan daar ‘n houthuisie met dakvensters, wat eens ‘n vakansiehuis was (‘n “batch”, soos die Kiwi’s dit om die een of ander onverstaanbare rede noem). Nou is dit die woonhuis van my broer se gesinnetjie wat Suid-Afrika in 2011 vaarwel toegeroep het – vier mense wat van my heel dierbaarste dierbares is. Die huisie nestel onder ‘n steil afrit, sodat die seebries dit net liggies streel. In die een hoekkamer kyk vensters sonder diefwering uit op ruie varings, boomvarings, piesangplante, rankplante en reuse-impatiensblomme. Die buurhuise is net anderkant hierdie skerm, maar dit voel asof mens alleen in ‘n sprokiestuin woon.
Hier het ek twee wonderlike weke deurgebring, omring deur liefde en oorlaai met guns. Elke oggend het my peetseun, nou al sestien, my vaak-vaak ‘n drukkie kom gee. My broer se dogtertjie (sy’s amper twaalf) en ek het ons vingers sagkens tussen die sagte groen suiertjies van see-anemones geplaas en ‘n donkerblou seester in een van die rotspoeletjies ontdek. Ons het die wilde eende in die stroompie gevoer (twee broeisels van drie en vyf eendjies maak miniatuur-v’tjies in die water agter hulle ma’s aan) en die lieflike seelandskap van die “clifftop” af bewonder.
Dis al lank dat ek wonder oor die geheimenis van persoonlike ervaring. Dit voel vir my asof ek, waar ek ook al gaan, die wêreld om my “oopmaak” deur op daardie oomblik dáár te wees. Bly daar iets van my oor as ek weer weg is, of is hierdie hele gedagte in wese ongelooflik egosentries?
Terug in my vaderland moet ek verneem dat een van die steunpilare van ons gemeente skielik oorlede is – so ‘n lewendige, vriendelike, opmerksame en behulpsame mens! En ek wonder oor die dood…

Advertisements