My kleindogtertjie Gabby het ‘n strydkreet wat dateer uit die heel vroegste dae toe sy net begin praat het: “Da-hielie!” Dit beteken min of meer: “Oe, dis mooi, ek wil dit hê, gee dit hier!”
Op my spieëlkas in sy eie klein boksie lê daar ‘n groen kralesnoer met die naam Da-hielie – so gedoop die eerste oomblik toe Gabby dit gesien het. Dit is uit die VSA saamgebring deur ‘n vriendin van my dogter toe sy vroeër vanjaar daar gaan kuier het, saam met ‘n handgeskrewe briefie wat dit beskryf as “…’n viering van Mamma se gunstelingkleur”.
Dis ‘n elaborate spulletjie wat ek nooit die moed sal hê om te dra nie: sewe stringe altesaam, in alle denkbare skakerings van glinsterende groen. Wanneer ‘n mens dit string vir string bekyk, kan jy die sorgsaamheid sien waarmee my liewe dogter se ratse vingers dit aanmekaargesit het: verskillende eweredige patroontjies van minstens 18 soorte ingerygde krale. Dis ook ‘n baie nuttige voorwerp, want dit hou Gabby besig terwyl ouma inderhaas hare kam voor ons op ‘n uitstappie gaan.
My kind is gelukkig daar ver in Amerika. Sy en haar Amerikaanse man werk as huisouers by ‘n skool wat wonderlike geleenthede aan minderbevoorregte kinders bied. Hulle is lief vir mekaar. Elke dag bring vreugdetjies, soos altyd wanneer ‘n mens met kinders werk. Die meetsnoere het vir haar op lieflike plekke geval.
Soggens vroeg verlang ek die meeste na haar. Dan vat ek Da-hielie en laat die krale dankbaar deur my vingers glip…

Advertisements