(Sien Scrapydo2 se uitdaging oor Toneelspelers)

Toe ek drie jaar oud was, het ek vir die eerste keer voorgedra: “Nuwe skoentjies”, ‘n monoloog wat my mammie vir my geskryf het. Dit was glo ‘n treffer.

Skoolkonserte was opwindend; kerkkoorkonserte heerlik; operettes net ‘n fees; skooltoneeltoere en universiteitskonserte ‘n manier om dele van ons land te sien en die mense van daardie streke te beleef. Iewers in die kerkgebou van Universiteitsoord is daar ‘n baksteentjie wat ek met kaartjieverkope befonds het – of dalk is dit selfs ‘n stukkie gekleurde glas?

In die dae voor televisie het amateurtoneel geblom – en die uwe daarmee saam: op die verhoog in die Aula, in die Musaion, die Kleinteater, selfs in die Amfiteater, in ‘n obskure Shakespeare-drama. Amateurtoneelspelers was ‘n vreemde spesie: mense wat hulle bagasie op die planke verwerk het, skaam ekstroverte, narsistiese selfhaters, partytjiegangers par excellence…

Die streekskunsterade het die wonderlikste opvoerings geskep en toneelspelers was alombekend. Hoe graag wou ek by daardie geledere aansluit! Tog nie graag genoeg nie, want toe my ouers bereid was om my van voor af drama te laat swot, het ek nie die kans aangegryp nie. Hoe anders sou my lewe en herinneringe gewees het as ek dit wel gedoen het?

Advertisements