Dis ‘n ou bank, die relings en armleunings is van soliede hout. Dis drie jaar jonger as ekself, met die gevolg dat dit in my heugenis maar nog altyd dáár was.

Ek onthou:

die opwinding van ‘n nuwe storieboek en hoe lekker ek op die bank in die sonkamertjie gaan lê het om te lees;

die keer toe my mammie nuwe oortreksels op die bank gesit het, wat toe in my tiener-slaapkamer gestaan het, en hoe mooi dit gelyk het;

die laatnagkuiers in Pretoria se woonstelwêreld van die vorige eeu – Hatfield, Arcadia, Sunnyside – die sin en onsin wat ons op daardie bank gesit en kwytraak het;

‘n volgende geslag kinderlyfies wat net so tuis op daardie bank gevoel het en op die kussings baljaar het wat ek in my onhandigheid tog gemaak gekry het;

die manier waarop my kleindogtertjie, die derde geslag, van die bank ‘n klimraam gemaak het…

As ek reg uitreken, het daardie bank dertien keer saam met my getrek. Vanoggend het dit alleen verder getrek, toe ‘n mooi, elegante blondekopvrou en haar man dit kom haal het. Ek dink sy het waardering vir ou, deurleefde meubels. Ek dink die bank het ‘n goeie huis gekry.

Maar ek sit hier met trane in my oë…

Advertisements