Ek het nog altyd van mooi gehou: mense, klere, diere.

My eerste katjie was ‘n bolletjie asvaal wolle met groen ogies. Daarna was daar strepieskatte, met hulle pragtige ooggrimering en die driekleur-haartjies wat uiteindelik die strepiespatrone uitmaak. ‘n Laerskooljuffrou wie se suster met Persiese katte geteel het, het die produk van ‘n onwettige liaison aan Laatlam gegee. Ons het hom Gorgeous genoem – en dit was hy voorwaar: lang, digte gemmerkleurige pels en amber oë. Les bes was daar die mooiste strepieskat ooit: Skoonlief, my hartskat, my drie-uur-in-die-oggend-troostertjie, met haar lang wolletjies wat sy so mooi versorg het en haar glansende groen oë met die goue stralekrans om die pupille.

Nou sit ek met die laaste kat wat ek ooit hier op die ondermaanse sal hê – en dis die lelikste kat wat ek in my hele lewe gesien het. Toe ons haar oortuig het om van ‘n wilde bestaan op die dakke van ‘n kompleks af te sien, nadat haar eienaar getrek het, was haar naam Snowy. Ja – dis ‘n spierwit kat, met die eienaardigste soetskeel, lig-olyfgroen oë. Laatlam het haar tot Terr (‘n afkorting van Terre’Blanche) herdoop – weer eens omdat sy wit is. Ook omdat sy wit is, het daar ‘n tipe velkanker op die punte van haar ore ontstaan. ‘n Jong veearts het albei oorpunte afgesny en met die mooiste borduurwerk die ronde oortjies geheg – toe lyk Terr nogal soos ‘n Quakermeisie met ‘n kappie. Maar die een oor het weer begin bloei. Dié keer het ‘n teddiebeer van ‘n dieredokter die oor tot in sy droesem afgesny – nou lyk Terr soos ‘n seerower met ‘n oorklap.

Terr 1

Wat honde betref: ek’s nie onvoorwaardelik vir die hele kaboedel lief soos vir alle katte nie; ek moet ‘n persoonlike verhouding met ‘n hond opbou. Tog was daar pikswart labradors, ‘n spanjoel met syerige bruin ore en ‘n pragtige goue retriever.

Nou het my kinders ‘n hond by die DBV gaan haal. Hulle noem haar Muis en sy is van die spesie Africanis. Dis die lelikste hond wat ek in my hele lewe gesien het. Haar gesiggie lyk soos ‘n miniatuur-Alsatian, nogal oulik as sy haar ore spits, maar aitog, die lyf… kort, sandbruin hare, met gryserige haailaaits, te lank vir die maer beentjies (daai bene gaan tog nie groei om by die res van die lyf te pas nie?!) en ‘n potsierlike lang stert.

Muis 1

Janee, die lewe het my ‘n streep getrek…

Tog leer hierdie hond my teen die einde van my lewe om dieper as die oppervlak te kyk, want:

Sy lê rustig in die sandput en laat ‘n peutertjie toe om haar lyf met sand in te vryf en agwat, as daar nou ‘n korreltjie of twee in die ogies kom, knip sy dit maar net weg.

Die kindjie verloor in volle vaart haar balans, val bo-op die hond en die twee rol in ‘n wilde strokiesprentbondel oor die harde vloer. Daardie skerp hondebek hap nie eens een keer nie.

Mooi was nog nooit lelik nie, ja – maar lelik is soms mooier as mooi.

Advertisements