Die sonnige dae dryf voort, van oggendtee na uitstappie na slapiestyd na namiddagkuier na mamma se huistoekomtyd…As Ouma weer sien, is nog ‘n week verby.

Vanjaar is daar geen sprake van rustig in die sonnetjie sit met ‘n snoesige babatjie op die skoot nie. Nee: deesdae soek ons die oop ruimte van die botaniese tuin op, waar Gabby ten minste kan trippeldraf – iets wat sy nie in die posseëlgrootte-tuintjie van die ghetto waar die kinders nou huur, kan doen nie.

Onder die groot inheemse bome is daar sandkolle – soms rooi, soms bruin. Gabby geniet dit om haar handjies deur die sand te grawe en handjiesvol op die bank waar ouma neergesyg het, te kom strooi. Sy hou haar vuisies in die lug en kyk hoe die sandkorreltjies, blaartjies en stokkies op die hout val. Later raak sy so entoesiasties oor die sandversameling dat sy met stywe beentjies op haar voetjies staan, boudjies in die lug, terwyl die handjies so deur die sand skuur. Oor en oor speel sy hierdie speletjie, totdat kleinkind en ouma altwee erg stowwerig daar uitsien.

Tussen tarentale en ganse deur stap ons, met Gabby nou veilig in haar 4×4-stootwaentjie vasgegespe. Ons kyk na stil poele water en ‘n ruisende waterval, bekyk ‘n mooi reeks kennisgewingborde met foto’s van knaagdiertjies wat Ouma tot haar skande nie kan identifiseer nie, en benoem dan triomfantlik die een bekende: ‘Uil! Hoe-hoe!!’

Daar is ‘n nuwe komplikasie by die huis: ‘n jong hondjie, by die DBV gaan kry. Die hond is glo van die spesie AfriCanis – en skreeu-, skreeulelik. In die vorige eeu het sulke honde ‘n baie ongeskikte naam gehad…Maar sy blaf darem nie en is baie lief met Gabby, wat sonder aansiens des honds voortstorm. Tog bly Ouma maar besorgd en haar wagstaantye is nou aaneenlopend…

Laatlam het my nog altyd gedwing om dinge te doen wat nie by my ouderdom gepas het nie – en nou is dit weer so. ‘n Peutertjie met ‘n woede-huilbui in die middel van Checkers omdat sy nie van een trollie na ‘n ander wil oorklim nie, is voorwaar ‘n uitdaging. Tog help hierdie warm, woelige kindjie haar ouma om die naderende kilte van Winter te kan verduur.

Advertisements