My kleindogtertjie Gabby is nou so-te-sê een en ‘n halwe jaartjies oud. Sy ontwikkel verstommend vinnig – het vroeg gesit, gekruip en geloop. Toe Ouma nog haar woordeskat wou opteken, was daar reeds soveel woordjies dat Ouma nie kon voorbly nie! Sy herken uiteenlopende weergawes van ‘n “oolfant” – van gestileerde prentjies en sagte speelgoed tot by die ware Jakob in ‘n natuurfoto. Sy kan vertel “hoe maak ‘n…” kat, hond, koei, hadida, leeu, hoenderhen, kuikentjie, uil, eendjie. Haar verstandjie is helder en haar emosies sterk.

Dis nou waar die knoop lê. Ouma het van meet af aan besef ons gaan hier met ‘n kampioenvloermoergooier te doene hê – maar eers op tweejarige ouderdom! Watwou – Gabby gooi reeds van die bestes wat ek nog gesien het. Heel vroeg het sy begin trippel met daardie stewige beentjies; nou het sy al die kuns van inmekaarsak bemeester. Van ‘n woedende geskree is daar gelukkig (nog) nie sprake nie, maar sy het ‘n bepaalde droewige gehuil en as sy rêrig kwaad is, spoeg en sis sy soos ‘n wilde ding.

Daarby verbaliseer sy haar woede met die twee negatiefste woorde wat sy ken: NEE en… OKAY! Dis verskriklik snaaks om so ‘n woedebui met geweeklaag te beleef en tussendeur te hoor: “Okay, okayy!!”

Die ding het só gekom: sy wil nie nog kos/water/rooibostee hê nie en terwyl sy haar weiering duidelik te kenne gee (gewoonlik met ‘n kortaf “nee” en wegwysende gebaar) trek Ouma terug met ‘n gerusstellende, inskiklike “Okay…” So assosieer daardie verstandjie toe “okay” met haar eie “nee” in plaas van Ouma se “ja”! Ek kan my net indink hoe verwarrend dit soms moet wees, want Ouma “okay” nog steeds…

Dalk sal ek, met die drastiese hulp van klein Gabby, uiteindelik hierdie woord uit my woordeskat geskrap kry.

Advertisements