In The Daily Post haal Krista die digter Mary Oliver aan: “…what is it that you plan to do with your one wild and precious life?”

Vroeg Vrydagoggend: In die weste bokant Menlyn hang ‘n perfekte reënboog. Die sagte kleure span oor ‘n loodgrys lug. In die ooste skyn die son helder. Hier en daar val ‘n groot druppel reën. “Nat!” roep my kleindogtertjie uit en hef haar sagte gesiggie op. “Kyk die reënboog!” sê Ouma, maar die liewe ogies kan nog nie hierdie nuwe verskynsel raaksien nie.

Later die oggend: “Kat!” Ouma kyk saam by die venster uit: ja – die wit kat drink lustig water uit die randjie van die sandputdeksel. Die lig val só dat die spattende waterduppels blink en ons verkyk ons aan die besige pienk tongetjie wat die water so lekker oplek.

Nog later: “Voëltjie!” Ons stap nader aan die dikkoppies wat in die middel van die stad op ‘n kerkterrein woon. Al nader, totdat hulle een vir een begin hardloop. Die een ou sprei sy vlerke en vlieg ‘n ent; ‘n ander een bly sit net waar hy is, sodat ons die pragtige patrone op sy veertjies kan bekyk. Die klam grond is bedek met bloekomblare en doppies en ek onthou die bloekoms van my kindertyd…

Hmm, ja – wild is ons twee se lewens nie, maar kosbaar? Verseker!

Advertisements