As dit my laaste Paasnaweek op aarde was, sal ek tevrede wees, want dit was wonderlik. Ek was so bevoorreg om driekeer nagmaal te kon gebruik, wat die gebeure rondom daardie laaste week in Jerusalem helder voor die oog geroep het.

Donderdagaand in my eie gemeente, by kerslig en met die laaste daglig wat nog deur die pragtige loodglasvensters skyn, gedenk ons Christus se instelling van die nagmaal. Daar is ongesuurde brode – plat, bros skywe, waarvan elkeen ‘n stukkie afbreek – en erdekelke. Ons hoor hoe Jesus die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en ál sy dissipels se voete gewas het…

Op Goeie Vrydag, in ‘n sober ou kerk met wonderbaarlike argitektuur en donker hout waaroor die oggendlig ‘n goue waas sprei, hoor ons die sewe Kruiswoorde. Die brokkie brood is varsgebak en die wyn is swaar en soet.

Vanaand, by ‘n adoramusdiens, word die brood telkens met die woorde “Vir jou” aangegee. Ons stuur die wyn in individuele glasies op silwer skinkbordjies om. Die teks wat bepeins word, is dieselfde wat ons vanoggend met die Opstandingsdiens in my eie gemeente oordenk het: Johannes se vertelling van die leë graf en die doeke wat daar lê, met daarby Jesaja 25 se woorde: Op hierdie berg sal Hy die doek verwyder, die doek wat oor al die volke gegooi was, waarmee al die nasies toegemaak was. Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee.

Meesterlike orrelspel, sagte klaviernote, viool, tjello, trompet en sang het my deur hierdie naweek begelei en vanaand het ‘n reuse maan my pad huis toe bestraal.

Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

Advertisements