Slaap Pikaninie, ons vee’s in die kraal,

Almal ons skapies en bokkies…

Môrevroeg kry jy van soetpap ‘n maal,

En ‘n paar spierwitte sokkies…

Wiegeliedjies het dikwels ‘n droewige ondertoon, want ‘n mamma besef sy kan hierdie wesentjie net ‘n rukkie lank beskerm. Hierdie ouma raak toe sommer nou-die-dag aan’t snikke terwyl sy baba aan die slaap sing!

Die versie hierbo is ‘n spesiale gunsteling, omdat dit so mooi oor besittings sing. Die vee is veilig en daar is die vooruitsig van kos en klere. Ek onthou hoe jaloers ek oor my kinders se “skatte” gewaak het – die klippies en blare en speelgoed wat hulle versamel het en wat vir hulle spesiale betekenis gehad het – al was dit dalk vir ander mense net rommel. Van kleins af is daar hierdie gehegtheid aan voorwerpe wat vir ons sekuriteit beteken. ‘n Geliefde speelding in ‘n kinderhandjie vasgeklem maak my sommer maklik hartseer – dalk is dit hoekom Linus en sy kombersie my hartsnare roer. Vaagweg onthou ek hoe W.E.G. Louw my ontroer het toe hy Adam op die strand van die doderyk laat uitspoel “…met in sy hand – ‘n pluksel gras…”

My kleindogtertjie het Saterdag een jaartjie oud geword.

Onskuldig ogies en voetjies en handetjies,

Wie weet hoe ver moet my kleintjie nog ganetjies!

Ver deur die wêreld se kronkels en gangetjies,

Bly tog maar kleintjies en bly dit nog langetjies…

Advertisements