Vanaand het ek weer jellie gemaak in die ronde glasbakkie, net die regte grootte vir een boksie jelliepoeier, wat ek uit my tannie se kombuis geërf het. Sondagmiddae as ons in Potch gekuier het, het sy skeppies jellie uit dié glasbakkie gebruik om vir elke familielid om daardie gesellige etenstafel sy eie individuele bakkie koekstruif te gee. Ek is so lief vir hierdie bakkie!

Kan ‘n mens na ‘n skildery verlang? Ek mis my groot waterverf “Reën oor Wes-Transvaal” van Johan Borman. Dit was nie net ‘n pragtige skildery nie, dit was ook ‘n herinnering aan ‘n glansaand in my jeug, die opening van ‘n kunsuitstalling toe ek wyn gedrink en ‘n kunswerk gekoop het… Die skildery het ‘n goeie huis gekry – ek het dit aan ‘n waarderende vriendin gegee – maar ai, ek mis dit.

Nog iets wat goed tuisgekom het, is my oorgroot boekrak, wat nou iewers in Johannesburg pryk en baie beter lyk en versorg word as die vele jare wat dit teen my muur was.

Ander besittings was nie so gelukkig nie. Ek sien nou nog die volgelaaide bakkie van die afslaer die draai vat… Waar sou daardie voorwerpe nou wees? Die versameling gesnyde glas wat my mammie bymekaargemaak het; die staanspieëltjie waarin sy en haar sussies gekyk het as hulle hulle wange knyp om dit rosig te laat gloei; die twee leunstoele met die oorspronklike Engelse jagtoneel nog steeds onder die her-oortreksels…

Ek weet dis wêreldsgoed – maar mens neem tog maar swaar afskeid, al vertel jy jouself dat jy ten minste nou iemand anders die moeite om op te ruim spaar.

Advertisements