Mamma is deesdae baie in my gedagtes – noudat ek in min of meer dieselfde situasie is as inwonende ouma as wat Mamma in my huis was. Ek lees ou briewe aan Mamma se susters en geniet Mamma se perspektief op ons huishouding en Mamma se kleinkinders.

Mamma het gedink ek werk te hard – soos wat ek nou weer wens my liewe skoondogter kon meer rus en meer pret hê. Tog was daardie dae vol vreugde en energie.

Onthou Mamma die opgestopte speelding wat Mamma gemaak het – die rooi haas? Ek het hom nuwe knoop-ogies gegee want die een was lankal weg en toe die verskriklike fout gemaak om hom in die wasmasjien te gooi. Ai – ek wens sy mooi lang ore het nog regop gestaan en sy lyfie was nog so sag en wollerig soos voor die wasmasjien… Tog is Mamma se agterkleindogtertjie baie lief vir hom, want rooi is haar gunstelingkleur.

Dankie vir Mamma se sagte liefde en dat Mamma sulke goeie herinneringe in my seun se hart opgebou het dat hy vir my ‘n plekkie onder sy dak ingeruim het.

Advertisements