Vandag het ek die laaste van die Sederbergse lemoene verorber. Een skyfie het ek met groot opoffering aan my kleindogtertjie afgestaan. Nadat sy eers haar bekkie op ‘n plooi getrek het oor die skerp smaak, het sy haar goedkeuring met ‘n behaaglike gesmak betuig – ek wens die Citrusdalse lemoenboere van Watervalplaas kon daardie geluid gehoor het; dit sou al hulle arbeid die moeite werd gemaak het!

Middelkind het jarelank al die slag om sy ma op plesierige uitstappies te neem, maar hierdie naweek-uittog was die hoogtepunt. Die weer was stralend mooi en in “Honey Cottage” was daar ‘n kaggelvuur en donsduvets om die nagkoue te besweer.

Saterdag ry ons die berge in, deur Nieuwoudtspas om na die Stadsaalgrot te gaan kyk. By die Cederberg-wynkelder koop ons die nodige permit. Watter wonderbaarlike toeval dat ek op hierdie plek beland! ‘n Jaar of twee gelede het ek na Afrikaanse terme gesoek om ‘n swak vertaling te probeer red en op die webwerf cederbergwine.com afgekom, waar mens met een klik die hele webwerf in die keurigste Afrikaans kan bereik. In antwoord op my dankbare e-pos het die mense van daardie kontrei laat weet dat ‘n vriendin wat lid van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut is, dié groot werk gedoen het. Ek het destyds nog met heimwee gedink dat ek tog graag daardie wynplaas sou wou sien – en hier is dit onverwags wel vir my beskore.

Die grot/-te laat my aan ‘n gunsteling-kinderboekie dink, waar loergaatjies só beplan is dat mens stukkies van die volgende bladsy se prent reeds hier kan sien, bv. ‘n muisie wat netjies deur ‘n venster loer. Loergate in die grot speel ‘n betowerende spel met lig, skadu en perspektief.

017

Middelkind toets sy 4×4 deur driwwe en om draaie op die grondpad. Ons juig as daar ‘n modderpoel is, want dit beteken egte tekens van ‘n wegbreeknaweek wanneer ons weer Kaapstad binnery. My twee Kaapse kleinkinders hardloop onverskrokke met hulle kaal voetjies deur die koue oorloopwater op die brug oor die Olifantsrivier. Dis die eerste keer in my lewe dat ek die uitbundige oorvloed van die Wes-Kaapse veldblomme sien – ek gee nie eens om dat my gesig op ‘n pruimplooi trek op die foto van my en die kleinkinders tussen die blomme nie.

Ons mag lemoene van die bome op die plaas afgepluk het en het dit net daar gestaan en eet. Soos vloeibare, sappige soet sonskyn is daardie lemoene – helder oranje, met dun membrane wat die skyfies in mens se mond laat smelt. Daardie lemoene is sweerlik verteenwoordigers van Plato se ideale lemoen.032

Op pad na die waterval stap ons deur fynbos en lenteveldblomme en sien twee bobbejane heelbo op ‘n sandsteenkrans teen die blou, blou lug afgeteken sit. Die Boontjiesrivier stort teen rotse af, kolk swierig in die rondte en vloei vinnig verder verby ‘n klein wit sandbank na ‘n dieper poel ‘n entjie verderaan. My kleinkinders gooi dryfhout in die stroom en hardloop uitgelate agterna.

039

045

Watter lieflike speelplekke het die Skepper tog vir sy kinders – klein en groot – gemaak…

Advertisements